Geheime

En toe sê hy vir haar: “ons geheime is geheime. ons geheime.” Want ander mense gee nie om vir jou geheime en my geheime nie, hulle het hulle eie geheime. So hulle sal maak met jou geheime net wat hulle wil, want hulle geheime is hulle geheime.

Advertisements

Papierseisoen

Die laaste skoon bladsy in my notaboek staar al weke na my, met ‘n leegte in die oë. ‘n Tipe heiligheid. Die boek wat ek al maande aan my lyf dra, soos dit iemand met ‘n kop in die wolke betaam. Die boek se doel was om geheime, gedagtes, geite en geniale dinge te bêre, te onthou en later oor te wonder.

Instede daarvan, is al wat die papier het om te wys: drie geheime en vier en ‘n halwe gedagtes. Verder net doellose onthou-notas wat ek op my eie inelkgeval self onthou het. Voorbereiding vir die eerste stap na onafhanklikheid – ‘n werksonderhoud. ‘n Lang skoot, ‘n jammerlike inveraris en elementêre (hoofreken) somme -‘n klein trek vanaf Kaapstad na Johannesburg kos amper vyftienduisendrand.  Die datum van en aanwysings na ‘n Zinkplaat show wat ek nooit by uitgekom het nie. Omtrent sewentien screenplays / duimsuigstories / dinge wat nimmer sal gebeur voor ek nie effektiewe tydsbestuur baasraak nie – wat ten aanskou van ‘n boek van goeie intensies nooit sal gebeur nie. ‘n Resep vir ‘n aandete wat ek nooit gaan maak nie, ‘n lieflike leeslys van boeke wat ek bo alle hoop en verwagting ééndag sal lees. Iets wat sê everything means everything, maar nugter weet wat dit beteken nie. En dan weer: don’t believe everything you think.  (Sy is toe tog nie besimpeld nie).

Ons is maar net stories in papierseisoene lyk dit my.

 

 

18.36

Terwyl die res van die volk sit en kyk na die weerberig, kerm en kla oor die petrolprys en hoop om eendag, al is dit net vir een dag, gelukkig te wees en wonder hoe en wanneer op aarde en of dit op aarde sal gebeur; kyk hy na haar waar sy langs hom saam met die res van die volk sit en wonder. Kyk hy vir haar en sê hy vir haar: “Meisie, jy is hemels.”

Duskant

Hier sit ek nou met ‘n groen gesigmasker en koppie tee op my (driekwart) koperkatel en donsveerduvet en kraakvarslinne. The National se dude se fluweelstem streel my angs oour my oudag en hier skryf die afgelope 364 dae se inventaris homself. Nou – vir enige iemand wat The National so lief het soos ek, sal saam met my bly wees dat ek nie vanaand ‘n skêr besit om (weereens) vir myself ‘n kuif te sny nie. Dis 100% van elke keer ‘n fout.

24, die opwindendste, liefste, eerlikste, lekkerste, vreeslikste jaar.

Maar nou – tussen a rock and a hard place, want hoe eerlik gaan ek nou wees oor die aantal overpriced glase wyn, kere wat ek die oopte ingestaar het onder die dekmantel van gebed of pare skoene in my kas wat ek regtig dra.

[Disclaimer]: Gebeure nie in enige spesifieke volgorde nie – maar alles beslis die reine waarheid. Belowe.

karbatterye vervang x 1

karflikkerligte vervang x 2

kamikazi verlowings x 1

regte verhoudings  – geen

verbeelverhoudings – geen kommentaar

reality shows x 1

werksaanbiedinge x 3

noue ontkomings x 2

retrenchments x 1

droomwerk x 1

haircuts x 4 – dankie Karoosomerhitte

dae afwesing (kop in die wolke tipe afwesig) x 120 – min of meer  (meer)

glase gebreek x 4

spoedboetes x 3

poskodes x 3

vroegdag Cliftonstrand skaterlag x 1

skelm sigarette x 35, waarvan 20 op Anna se balkon en die res op ‘n koue kombuisvloer of lukrake sypaadjie was.

hoenderpasteie (gehelp) gebak x 1

geboue beklouter x 1

hartroerende trane op nasionale TV x 200 (individueel getel)

groot besluite x 2

pak lemoene en trek (soos Fereirra)  x 1

biere by Great Dane x 6

tequila saam met Greta x 2 – goed saam met die sagste hoendersosaties die kant van Suid Wes

boeke begin lees x 14

boeke klaar gelees x 1

hondevriende x 2, waarvan een ‘n baie Napoleon’esque poedel

moedelose aande x 73 – give or take

vlugte na Johannesburg x 2

vlugte na Kaapstad x1 (you do the math)

baba’s – geen (genade raak al groter)

woorde geskryf – nog nooit genoeg nie

R10 Truth koffies of ‘n koue Buitenkantstraatsypaadjie x 25

liefdes ontwikkel x 1 (vir my werk)

sjokolades – geen kommentaar

Huisgenote gekoop – geen

Sarie Bruid van die Jaar inskrywings gelees x 2 (waaroor ek nou nog spyt is)

nuwe vriende – baie

ure spandeer aan Facebook stalking – baie, maar nie gevaarlik baie nie

kortasemoomblikke x 4 (grotes!)

hartverloor x 5  x 7(ongeveer)

hartegebreek x 1 (dink ek)

lugkastele x 3    x ontelbaar

scatter cushions gekoop x 4 (vier te veel)

minute in totaal wat ek laat was vir werk 0 (belowe)

geleenthede x 20+

flirtasies met die ewige x 2

berge versit x1 (in my kop, ja)

apies op my rug x 1

vrese x 15

redelike vrese x 2

yskaste verkoop x 1

prentjies geteken x 500+

mense teleurgestel x 4 (optimisties)

tandeborsels gekoop x 5 (verrie good)

regrets 0

En dis al waaraan ek nou kan dink. Kom ons kyk of die beauty sleep gedoente werk.

Tjirs.

Sondag 20.36

En al wat ons wil hê is ‘n lewe buite die gebondenheid van tyd. Buite die verwagtinge wat die sonopkoms bring en ver weg van die skemer se stilswye. Dat ons op ‘n ongewone golf tussen hemel en aarde kan loop met strooihalms en veldblomme in ons hare en stralekranse in ons oë en net goeie nuus op ons lippe. Met ons koppe in die wolke, tone in die dounat gras en vingers inmekaargevleg in viering van ons vryheid. Vryheid van jare, en bakens en huise en paaiemente, rentes, boetes, bedankings, pligte. Vryheid in veertienuurvlugte tot in wêrelde waar ons elke dag ‘n trein kan neem en luister na die meganiese sus wat weer en weer en weer saggies herinner dat alles reg is, dat alles sal uitwerk en dat almal die lig sal sien.  In wêrelde waar stories vertel word met lag en trane en stiltes meegeleef sal word en waar kinders se hoekoms beantwoord word. Waar reën vernuwing en genesing bring en branders oorvloed van verligting bring vir die wat vir die eerste keer die see sien en met hul beste crimpilene rompe en wit bloese die see trotseer om te voel of dit regtig is. Mag die Putco busse se sitplekke en wasemvensters ‘n uur of wat se ontvlugting bring vir die wat dit nie ken nie. Mag skoonheid nooit weer misgis word vir sommerso se alledaagse doodgewoon’geid nie.

Parys

‘n Naweek in Parys. Dis waar my kop vandag is. Onder andere. Byvoorbeeld. In sy strate. In sy wolke. Stoomswart koffie veilig in my hande, vars brood en keusekaas  op die tafel. Dieprooi en fillet (fie-ly) vir later voor en oor die vlamme. Oggendsnerp en herfskleurkontras wat hand aan hand loop, al al al tot waar hy die donkerspikkel wydste oopte vriendelik groet. Groet met die hand en ‘n soen.

Die Parys waar die enigste Frans wat jy hoor die een in sy drieliterbakkie is. Die een wat ses tjops op ‘n slag eet en nie vloek op Sondae nie.

Daai tipe Parys.  Huisparys.

Tekort-

Sy was totaal en al vasgevang in sy tekortkominge. Hoekom dit nou juis tekortkominge is, wéét sy nie, dis hoe ons mense mos oor dinge dink.

Die manier hoe hy dink as hy rook en sy duimnael byt in die oomblik voor hy iets wil sê en dan laster as hy besef wat hy besef het en dit dan nooit sê nie. Goed of sleg, die roetine verander nie. Hoe hy sê sy moet haar eie lesse leer en openbaringe soek. “Want as hy syne moes deel, sou hy twee van als kry.” En die manier hoe hy met sy elmboë soos driehoeke na buite eet soos ‘n dors kameelperd. Die manier wat hy niks wil glo nie – nie eers as sy haar liefde verklaar nie. Die manier hoe hy somtyds buitesinnelik boring kan wees. Vir weke aaneen.

Dit was wat haar aand na aand wakker laat lê het. Die manier dat haar verstaan van hom, die grootste, mooiste misverstand in die hemelruim kan wees. Die redelike man toets – hoe absurd tog – sou duidelik dui op ‘n fout. ‘n Reine fout. Die tipe fout wat elke mens wil maak – al is dit net een keer in jou lewe. Om die “regte” besluite te regverdig.

Hoe hy vir haar varkore bring as hy teen die tyd al moet weet dat sy fynbos of snapdragons verkies. Hoe hy haar op ‘n Sondagmiddag drieuur bel. Is daar om hemelsnaam ‘n slegter tyd?  Hoe hy nie ‘n moer omgee of daar melk vir die koffie is of nie.

Dan het sy haar self vervies. haar tande diep en stomp gebyt terwyl sy vleg aand die klipharde gedagtes in haar kop. Pure isigrimmigheid. Als wat sy wens sy nooit sou wees nie. Dit, nés sy wens hy was nie die enigste mens vir wie sy wil lees of luister of vra of vertel nie.

Alleen staan sy in haar dowwe lig van liefde. Vasgevang.

Blindelings

Na aanleiding van verlede week se gesprek met Vriendinmarie.

Ek’t gelees dat dit nie regtig saak maak wat jy weet nie, al wat jy regtig moet weet – is jy moet wéét wat jy wil hê.

Vriendinmarie: Ja, en? Wat is dit wat jy wil hê?

Ek wil net die beste wees in wat ek doen – en ek wil iemand liefhê. So lief dat ek letterlik blind word daarvan. Nie van ouderdom of iets wetenskaplik nie – blind van te lief hê.

Vriendinmarie: O. Ek wil net ‘n fokken lekke versameling boeke hê. Soos – al die beste boeke in die wêreld in my huis. 

Sien, dis hoe ek weet Vriendinmarie is wyser as ek. Vir nou is dit beter om maar net te hê wat tasbaar, en tot ‘n mate objektief is. Want toe sy dit sê toe dink ek eers aan hoe lief ek dan ook vir boeke is.

Toe kom die skuldbrander van verneuklikheid oor my – hoe moet my lewenslange boekevriende nou voel dat ek ‘n wild vreemdeling bo hulle tot blindheid toe wil liefhê. Iemand wat inelkgeval nooit hul liefliklojale skoene sal kan volstaan nie. Nou eers verstaan ek die kla met die witbrood onder die arm. Jare worstel ek al daarmee – vandat my juffrou eenkeer ná pouse vir my gesê het die-en-daai se ma wat met die dorp se dokter getroud is, kla met die witbrood onder die arm.

Nou verstaan ek.